IETS OOR MYSELF

Mobirise Website Builder
MY NAAM IS GROVÉ JOUBERT EN HIERONDER, IS IETS OOR MYSELF.

Om mee te begin, ek het hierdie webtuiste saamgestel nadat ek JESUS CHRISTUS aangeneem het as my Verlosser en Saligmaker.  Ek is deur die Gees gelei om hierdie webtuiste tot stand te bring en sodoende die Woord van GOD aan soveel mense moontlik uit te dra. Ek het geen opleiding ontvang of enige kennis in die opstel van webtuistes nie, alle kennis om die webtuiste tot op hierdie punt te kry, kom van GOD deur die Gees, alle eer aan HOM.

Ek is gebore, het grootgeword en skool gegaan in Lichtenburg, Noordwes Provinsie Suid Afrika. Ek is die jongste van vier kinders, myself, twee susters en ‘n broer. Ek het in ‘n Christelike huis grootgeword, my Pa was ‘n werktuigkundige en my Ma was ‘n tuisteskepper. Nadat ek matriek geslaag het, het ek werk gekry by Landbou Tegniese Dienste in Pretoria, waar ek drie jaar gewerk het.  Gedurende die drie jaar, het ek een jaar verpligte weermagopleiding voltooi.  Terwyl ek in Pretoria gewerk het, is ek ‘n pos aangebied by Noordwes Koöperasie Beperk in Lichtenburg, wat ek aanvaar het.  Gedurende my dienstydperk by NWK Bpk het ek in drie afdelings gewerk, die vervoer -, krediet - en kunsmisafdelings.

Ek is getroud met ‘n dame wat ek in Lichtenburg ontmoet het en GOD het my en my vrou geseën met ‘n pragtige, voorbeeldige, intelligente en hardwerkende dogter.

My lewe het drasties verander, nadat ek myself een middag weereens vergryp het aan alkohol.  Ek het my bewussyn verloor en het eers die volgende oggend wakker geword.  Toe ek wakker word, het ek besef dat ek nie in beheer was van my alkohol gebruik soos die satan my gedurig wys gemaak het nie, en dat ek ‘n alkoholis is. Ek kan onthou dat, terwyl ek daar lê, ek aanhoudend gebid en GOD gesmeek het om my gesond te maak, by my te bly, my nie te verlaat nie en my te beskerm.  Ek kan nie onthou hoe lank dit geneem het nie, maar mettertyd het ek begin beter voel.  Ek het daardie aand rustig geslaap en die volgende oggend opgestaan sonder nadors, hoofpyn of naarheid. Ek het al die drank wat in die huis was onmiddelik uitgegooi en van daardie dag af het ek nie weer ‘n lus vir enige alkohol gehad nie en ek het tot vandag, geen onttrekkings simptome gehad nie. Ek was in my vyftiger jare op daardie stadium en het alkohol gebruik vandat ek agtien jaar oud was. Na al daardie jare van alkohol gebruik moes ek onttrkkings simptome gehad het, maar daar was geen onttrekking simptome nie, net GOD kon my so volkome genees. Dit is hoe groot die krag van GOD is wanneer jy in opregtheid tot HOM bid. Ek het GOD gedank dat HY my genees het en ek het HOM gevra vir krag, sodat ek nie weer terug val in die satan se put van slymerige gemors nie.  Dit was die keerpunt in my lewe en die begin van die pad wat ek tot vandag loop met my Verlosser en Saligmaker, JESUS CHRISTUS.

Eendag, nie lank nadat GOD my genees het van alkoholisme, het ‘n vriendin van my dogter gevra of sy by ons kan kom kyk na ‘n uitsending op TV van ‘n Angus Buchan byeenkoms by Loftes Versveld in Pretoria. Ek, my vrou, my dogter en haar vriendin het na die uitsending gesit en kyk en toe Angus Buchan aan die einde van die program sê hy gaan ‘n gebed doen en die wat JESUS wil aanneem as hulle Verlosser en Saligmaker moet die gebed saam met hom bid, het ek in stilte gesit en die gebed saam gebid.  Dit was ongelooflik, na die gebed het dit gevoel of ‘n geweldig gewig van my afgehaal is, ek het geweet nou behoort ek aan JESUS en ek is skoon gewas in SY bloed. Ek het van dié dag af, ‘n begeerte gehad om Bybel te lees, so veel moontlik kerkdienste op die radio te luister en op die TV te kyk en om elke oggend en aand op my knieë te gaan en te bid en ek het van daardie dag af presies dit gedoen. Ek het GOD gedank en geprys en wanneer ek nou deur die satan versoek word gedurende die dag, het ek satan verdryf in die naam van JESUS CHRISTUS en GOD gevra om my te beskerm teen satan.

Wat ‘n mens moet besef, nadat jy JESUS aangeneem het as jou Verlosser en Saligmaker, is daar ‘n geweldige begeerte, om dit wat jy ontvang en ondervind het, met ander te deel.  HIER begin dit nou moeilik raak, want jy sien, terwyl jy in satan se web vasgevang was en besig was met goed soos, dronkenskap, vloekery, vieslike praatjies, vuil partytjies, vuil grappe, besig was om ander te verkleineer, bakleiery, besig was om jou eie-ek te voed, besig was met dobbel, leuns verkondig, ander emosioneel aftakel, die lys gaan aan, het jy jouself omring met mense wat hierdie leefstyl handhaaf, maar nou dat jy brand om dit wat met jou gebeur het en wat jy ontvang het en ondervind, met ander probeer deel, loop jy jou teen ‘n muur vas, want die groep mense in wie se kringe jy beweeg het, stel nie belang nie en wil dit nie hoor nie, want hulle wil nie die leefstyl wat hulle handhaaf prysgee nie.  Wanneer jy met hulle probeer praat oor wat met jou gebeur het, word ‘n grap daarvan gemaak of jy word aangeval en op ‘n agterbakse en onderduimse wyse in gesprekke ingetrek waar hulle dan wag dat jy ‘n verkeerde ding sê of doen sodat hulle dan met ‘n vroom gesig kan opmerk, ‘n ware Christen sal dit nie doen nie, of sal nie so praat nie, of sal nie so optree nie. Jy sien, terwyl jy onder die satan se mag is, laat satan jou met rus, maar wanneer jy JESUS CHRISTUS aanneem as jou Verlosser en Saligmaker, dan sal die satan jou probeer aftrek in die poel van slymerige gemors waar jy was en hy sal altyd die maklike uitweg volg , deur die mense wat die naaste aan jou is te gebruik om jou te treiter en om jou weer tot ‘n val te probeer bring (onthou altyd die volgende, die satan is die vader van die leun en ‘n lafaard). Van hierdie mense is eie- of aangetroude familie of vriende en hulle sal  jou gesin teen jou probeer draai deur jou voor te hou as byvoorbeeld ‘n sekte aanbidder (as gevolg van radio en TV programme waarna jy luister of kyk).  Hierdie tipe van inmenging in jou huwelik, kan lei tot egskeiding as die band tussen jou en jou vrou nie sterk is nie, met die gevolg dat satan wen en die betrokke mense se eie-ek en ego gevoed word.

Ek het ervaar dat, hoe langer ‘n mens vir JESUS lewe, hou erger word die aanvalle, MAAR  jy moet NOOIT opgee nie, want jy is NOOIT alleen nie, GOD is altyd by jou en wanneer jy in ‘n moeilike situasie beland, bid tot HOM en HY sal jou deur hierdie moeilike tye dra. ‘n Mens moet elke dag waaksaam wees, die satan se aanvalle is onophoudelik, bid aanhoudend tot GOD om jou te beskerm teen die aanvalle van die satan, sy duiwels, demone, bose geeste, onreine geeste en die mense wat satan gebruik om jou weer tot ‘n val te probeer bring.

GOD is getrou en regverdig en sal, wanneer jy in opregtheid tot HOM bid, enige iets wat jy vra,voorsien. Maar wees versigtig, om tot GOD te bid en te vra vir bv. die wen nommers van die Lotto, sal ‘n fatale fout wees, jy sien GOD laat HOM nie bespot nie, so wees versigtig waarvoor jy vra wanneer jy tot GOD bid, wanneer jy bid onthou GOD is die skepper en onderhouer van die heelal. Ek is werkloos vanaf 1999, maar het skropwerk hier en daar gedoen, en GOD het gedurende hierdie periode, vir my en my gesin elke dag gesorg, en HY sorg nog steeds elke dag vir ons, en ek dank GOD daarvoor. Ons het ‘n huis en ‘n motor wat beide klaar betaal is, ek prys en dank GOD daarvoor, ons het nog nooit honger gely nie, alle eer aan GOD daarvoor, ek en my gesin geniet goeie gesondheid, ek prys en dank GOD daarvoor, en so kan ek aangaan oor al die baie seëninge wat GOD daagliks oor my en my gesin bring.

Wanneer die satan my gedurig aanval, dan dink ek aan my Verlosser en Saligmaker JESUS CHRISTUS en wat HY alles deurgegaan het tot en met SY kruisiging. Gedurende daardie geweldadige en uiters moeilike tyd waardeur HY gegaan het, het HY nooit ‘n lelike woord aan enige van SY vervolgers geuiter nie. HY het dit alles deurgemaak, sodat al die mense op die aarde wat JESUS CHRISTUS aanneem as hulle Verlosser en Saligmaker en daarna nie weer sondig nie, die ewige lewe kan verkry. Wanneer ek aan dit alles dink, dan is die aanvalle van die satan maar ‘n geringe onaangenaamheid om deur te gaan en te weerstaan deur GOD se genade en beskermende hand en dan het ek weer moed en krag om voort te gaan, ek weier om satan toe te laat om die vreugde uit my lewe te neem.

Ons wat JESUS CHRISTUS aangeneem het as ons Verlosser en Saligmaker en nie weer sondig nie, moet voortdurend weerstand bied teen die satan en al sy duiwels, demone, bose geeste, onreine geeste en die mense wat satan gebruik om jou weer tot ‘n val te probeer bring, want ons weet wanneer JESUS op die wolke terugkom na die aarde, kom HY ons haal en dan is ons vir ewig by HOM.

WAT ‘N WONDERLIK VOORUITSIG !!

My vriend, vriendin, seun, dogter, ek hoop van harte jy het al jou rug gekeer op sonde en dat jy JESUS CHRISTUS aangeneem het as jou Verlosser en Saligmaker. Die tyd raak baie min, JESUS se wederkoms is baie naby, kyk om jou wat in die wêreld aangaan en lees dan in die Bybel, in Openbaring, wat GOD sê wat in die laaste dae sal gebeur, en besef...
...DIE  UURGLAS IS BESIG  OM  VINNIG  LEEG  TE  LOOP, ASSEBLIEF, BEKEER JOUSELF.

My bede is dat GOD se oneindige Liefde en Vrede met jou en jou geliefdes sal wees.

Vriendelike groete. 

online web builder
ADRES

Lichtenburg 2740
Noordwes Provinsie
Suid Afrika

ADDRESS

Lichtenburg 2740
North West Province
South Africa

SKAKELS | LINKS
KONTAK MY | CONTACT ME

Email: grove.joubert.ltx@gmail.com



               |   SITEMAP   |