make your own website

JESUS IS ONS VERLOSSER EN SALIGMAKER.

My vriend, deur ‘n klomp woorde vinnig af te rammel kan jy nie gered word nie. Net JESUS ons Verlosser en Saligmaker kan jou red, wanneer jy in alle opregtheid, ernstig en in volle oorgawe tot HOM bid. Wanneer jy in opregte berou bid tot ons HEMELSE VADER, in die naam van JESUS CHRISTUS, staan die volgende in Romeine 10:9-11 in die Bybel:
“As jy met jou mond die HERE JESUS bely en met jou hart glo dat GOD HOM uit die dode opgewek het, sal jy gered word; want met die hart glo ons tot geregtigheid en met die mond bely ons tot redding. Want die Skrif sê: Elkeen wat in HOM glo, sal nie beskaam word nie. “

DIE GEBED WAT JESUS AAN SY DISSIPELS GEGEE HET.
OPGETEKEN IN MATTHÉÜS 6:9-13
“Sò moet julle dan bid:
Onse Vader wat in die hemele is, laat U Naam geheilig word; laat U koninkryk kom; laat U wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde; gee ons vandag ons daaglikse brood; en vergeef ons ons skulde, soos ons ook ons skuldenaars vergewe; en lei ons nie in versoeking nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.”

1. BEKERING GEBED.
JESUS, ek is ‘n sondaar. Ek bely en erken dat ek vandag verlore is. Dankie vir die kruis waar U vir my sonde betaal het. Al verdien ek die hel, hoef ek nie daarheen te gaan nie. Vergewe asb nou al my sondes. Was my nou skoon in U bloed. Beklee my nou met U geregtigheid en maak my ‘n nuwe mens. Ek nooi U in my lewe in. Ek gee my totale lewe aan U oor om daarmee te maak soos U wil. Ek neem dit as ‘n feit dat U my nou vergewe het en dat ek skoon gewas is deur U bloed, dat ek nou ‘n nuwe mens is wat ‘n nuwe lewe begin en dat ek weergebore is en U kind is van hierdie oomblik af. Ek verklaar nou dat U die HERE van my lewe is.
Amen.

2. BEKERING GEBED.
EMELSE VADER, ek kom pleit by U vir genade en vergifnis van al my sondes.
Ek bely met my mond en glo in my hart dat JESUS CHRISTUS U SEUN is, wat aan die kruis op Golgota gesterf het vir al my sondes, sodat ek ewige lewe in U hemelse koninkryk mag hê. Vergewe my al my sondes.
VADER, ek glo dat JESUS opgestaan het uit die dode en ek pleit nou by U om in my lewe in te kom en die KONING van my lewe te wees. Ek gryp U aan as my persoonlike Verlosser en Saligmaker. Kom asseblief in my lewe en help my om U in erns, voluit te dien, die res van my lewe.
U WOORD is waar en waaragtig en ek glo nou vas dat U my sondes vergewe het deur JESUS se bloed en dat ek nou as vrygemaakte, skoongewaste kind van U, wedergebore is deur die inwerking van U HEILIGE GEES, wat my voortaan gaan leer, lei en bewaar.
In die wonderlike naam van ons REDDER, JESUS CHRISTUS, dankie wonderlike, genadige, almagtige VADER.
Amen

3. BEKERING GEBED.
JESUS, ek het U nodig. Dankie dat U aan die kruis vir my sondes gesterf het. Ek maak nou die deur van my hart en lewe oop en nooi U in as my REDDER en HERE. Dankie dat U al my menige sondes vergewe en dat U die ewige lewe aan my skenk. Kom maak my die persoon wat U wil hê ek moet wees.
Amen.

4. DANKBAARHEID GEBED.
Onse Vader wat in die Hemele is. Voorsien vandag aan die wat die eetlus het, maar nie die kos nie. Wees met die wat die kos het, maar nie die eetlus nie. Seën ons wat die eetlus en die kos het en maak ons opreg dankbaar daarvoor. Ons dank U onse Vader in die Naam van ons Verlosser Jesus Christus.
Amen.

WAT OM TE DOEN NADAT JY JESUS IN JOU HART GENEEM EN JOU LEWE AAN HOM GEGEE HET.

My vriend, nadat jy JESUS in jou hart geneem en jou lewe aan HOM gegee het, het daar nie ligte geflits nie, engele gesing of daar was nie 'n aardskudding nie. My liewe vriend, vriendin, seun, dogter, moenie bekommer en dink daar het niks gebeur nie. Die Bybel, wat die waaragtige WOORD van GOD is, sê dat die hemelwesens juig as 'n sondaar hom of haar bekeer. Ons kan die belangrikheid daarvan volkome glo. Iets baie besonders en van ewigheidswaarde het beslis gebeur.
Tydens werklike berou oor sondes en bekering en oorgawe aan GOD, word die sondaar gereinig van alle ongeregtighede en sondes. Deur die geloof in JESUS CHRISTUS as REDDER, word ons 'n nuwe skepsel en die HEILIGE GEES is in ons hart. Die ou gevolge mag dalk nog daar wees. Geldelike probleme, hartseer, eensaamheid, siekte of een van 'n tienduisendtal ander dinge, want ons lewe nog in 'n gebroke wêreld, maar anders as voorheen, is GOD nou in beheer van jou hart en lewe. HY is Almagtig en sal bemoeienis maak met al die bekommernisse en jou lei en help om rondom of deur die sake te kom. SY wil sal HY nou tot volvoering bring in jou lewe. As gelowige kan ons ook peil trek op die belofte in Romeine 8. nl. "En ons weet dat vir hulle wat God liefhet, alles ten goede meewerk, vir hulle wat na Sy voorneme geroep is." (Romeine 8:28)
Die Bybel, GOD se WOORD, deur die werking van die HEILIGE GEES, leer mens alles wat noodsaaklik is om te leef en die geloofspad in oorgawe te loop.
Soos ons, GOD se kinders, daagliks na HOM toe gaan in gebed en ook SY WOORD lees, sal HY HOMSELF al hoe meer aan ons openbaar. Daar leer ons SY liefde, blydskap, vrede en oorwinning oor sondes ken. Die werking van SY HEILIGE GEES in en deur ons lewens word al hoe meer 'n werklikheid. GOD is nie meer doer vêr iewers nie. SY Almagtigheid word al hoe meer vergestalt. HY word 'n vaste realiteit, wat ons daaglikse bestaan skep en ons dade beïnvloed.
Hier volg ‘n paar dinge om aandag aan te gee na jou oorgawe aan die HERE:

1. LEES DIE BYBEL EN BID GEREELD.
Leer meer van die HERE deur elke dag SY WOORD te lees. Dit kan vir so kort as slegs 'n kwartier op 'n slag wees, maar getroue Bybelstudie sal jou nie net in staat stel om andere te help nie, maar sal jou help om met vaste tred en met oortuiging op die geloofspad van Christenskap te bly. 'n Daaglikse getroue besoek aan die HERE in jou gebedskamer of slaapkamer versterk jou persoonlike verhouding met die HERE. Daar by SY voete leer mens wat SY wil is, wat HY vir ons voorberei en wat ons moet doen. Vra GOD om jou geloof te versterk en jou insig te gee in SY WOORD. Die HEILIGE GEES sal jou kom leer en vertroos en lei.

2. VERTEL ANDER MENSE.
Vertel andere van jou bekering en nuwe geloofspad. Nie alleen vra GOD dit in SY WOORD dat ons moet uitgaan en praat oor SY genade en geskenk nie, maar deur dissipelskap te beoefen groei die geloof, insig en dankbaarheid oor hierdie wonderlike gebeurtenis en geskenk wat ons ontvang het.

3. WORD GEDOOP
Die Bybel sê: "Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die NAAM van die VADER en die SEUN en die HEILIGE GEES; en leer hulle om alles te onderhou wat EK julle beveel het." (Matthéüs 28:19)
JESUS het self ook gegaan om gedoop te word. Daardeur wou HY aandui dat HY in volle gehoorsaamheid aan die VADER optree.
As jy nog nie gedoop is nie, gaan besoek 'n Christen-leraar by jou plaaslike gemeente en vra wat jy moet doen om gedoop te word.

4. SLUIT AAN BY 'N CHRISTELIKE GEMEENTE.

'n Ware Christelike kerkgemeente waar GOD en SY gebod gedien word met eer, vorm deel van die uitdra van GOD se WOORD. Daar kan jy 'n belangrike bydrae maak en self ook nog baie leer, ondersteun word en die liefde van medegelowiges ervaar.

5. CHRISTELIKE GESELSKAP.
Die waarde van gelowige vriende wat al 'n lang ruk die geloofspad loop, is van groot belang. Ander gelowiges kan 'n wonderlike ondersteuning wees in tye van nood as gebedsgenote en kan mens help om die Bybel beter te leer ken, omdat hulle Bybelstudie-ervaring al baie onderwerpe beslaan het. 'n Persoon wat tot bekering gekom het voel nie meer tuis in geselskap waar die HERE se NAAM ydelik gebruik word of waar geskinder, vuiltaal en gevloek en geswets word nie.
2 Timótheüs 3 verse 1 tot 5 verduidelik dit soos volg: "Maar weet dit, dat daar in die laaste dae swaar tye sal kom. Want die mense sal liefhebbers van hulleself wees, geldgieriges, grootpraters, trotsaards, lasteraars, ongehoorsaam aan hulle ouers, ondankbaar, onheilig, sonder natuurlike liefde, onversoenlik, kwaadsprekers, bandeloos, wreed, sonder liefde vir die goeie, verraaiers, roekeloos, verwaand, meer liefhebbers van genot as liefhebbers van GOD; mense wat ‘n gedaante van godsaligheid het, maar die krag daarvan verloën het. Keer jou ook van hierdie mense af."
Moet dus nie deel wees van geselskapsgroepe waar die HERE mishaag word nie. Dit eer HOM nie en sal net tot jou nadeel strek.

6. GESONDE LEESSTOF.
Benewens die daaglikse lees van die Bybel, is ander gesonde leestof ook 'n wonderlike voorreg. Probeer boeke lees oor geloofshelde en geloofsheldinne, die hedendaagses en dié van ouds, dus die verhale van mense soos Josef, Rut, David, Ester en andere in die Bybel. Vergelyk dit met die inhoud wat in die Bybel gevind word. Deur die dade en geloofservarings van ander gelowiges te sien, te hoor of te wete te kom, kan tot groot groei, kennis, insig en wysheid lei. Mens word soms daadwerlik geïnspireer as mens die geloof, getrouheid, selfdissipline en opofferings van ander gelowiges sien. Die wonderlike mededelings van sendelinge, is bv. heelwat makliker bekombaar deesdae. Dit is ook nou baie anders as sowat 25 na 30 jaar gelede. Interessante bronne wat bydra om die Bybel se inhoud of teks beter te belig en mens te help verstaan, soos dagstukkies, preke, Bybelvertalings, kaarte en besprekings is veel makliker bekombaar. Die Internet en boeke is dus heerlike hulpmiddels om ons insig te gee in onderwerpe waaroor ons nog meer wil weet. Sulke items of kommunikasie-media kan van groot waarde wees. 
ADRES

Lichtenburg 2740
Noordwes Provinsie
Suid Afrika

ADDRESS

Lichtenburg 2740
North West Province
South Africa

SKAKELS | LINKS
KONTAK MY | CONTACT ME

Email: grove.joubert.ltx@gmail.com



               |   SITEMAP   |